Thursday, 2 August 2012

Andries Vermeulen

Andries Vermeulen is gebore in Kaapstad en het groot geword op ‘n klein dorpie in die hartjie van die Sandveld, naamlik Redelinghuys waar hy van ’n jong ouderdom af al opspraak gemaak het en gewys het hy is sterk oppad na die bekendheid wat hy vandag geniet…

Andries se stem stel aan ons ’n heel nuwe sy van die Afrikaanse opskop-boerejol-en-lekker-kuier genre voor en elkeen van sy CD’s bied ’n nuwe verassing!
Sy nuutste vrystelling WESKUS Kwêla is beslis geen uitsondering nie en die room van Andries se CD vrystellings tot dusver.

Sy debuut album, “Wie Se” wat in 2006 vrygestel is, was Andries se eerste groot deurbraak tot die kommersiele mark waar die resep van humor tesame met goeie luister-musiek vervolmaak is.
Die album maak Andries binne weke ’n huishoudelike naam en die CD word ’n gunsteling op dansbane. “Wie Se” spog met ‘n verskeidenheid polsende nuwe liedjies wat beslis voete sal laat jeuk, maar verras ook met ballades wat hoendervleis gee. In 2007 kry Andries dit weer reg om die aandag op hom te vestig met die vrystelling van sy tweede album, “Jy vry lekker…maar nie so lekker soos jou sussie nie”. Die album bevat 18 snitte waar Andries sy stempel op bekendes (Leon Schuster, Bles Bridges en Steve Hofmeyr) se liedjies afdruk en sy eie maak. Die album bevat ook splinternuwe skeppings wat net Andries met sy kenmerkende stem kan vertolk. “Jy vry lekker…” leen hom tot meer volwasse lirieke wat wys dat Andries nie slegs humoristiese liedjies kan sing nie, maar ook ‘n meer ernstige sy aan hom het! Die album word in 2007 en 2008, twee jaar agtereenvolgend vir ’n SAMA en Huisgenoot Tempo Toekenning genomineer.
Andries se horisonne verbreed en tydens 2008 en 2009 word hy ook ’n bekende gesig in die televisiebedryf en kan kykers hom op Fiesta, Glittirati en Jou Show met Emo sien. Hy het sommer vinnig mense se harte gesteel met sy tipiese Namakwalandse uitspraak en aksent.

Met Andries se eindelose talent was dit vanselfsprekend dat sy derde album “Weskus Kwêla”, wat hy in samewerking met Vision Group of Companies gemaak het, nog ’n wenner sou wees. Vision Group of Companies is ’n finansiëlle instansie en te danke aan hul is hierdie CD se vervaardiging moontlik gewees.
“ WESKUS Kwêla” is ’n CD wat oor-en-oor geluister kan word om ’n heerlike atmosfeer te skep. Andries het verseker die geheim om lekker kuier boeremusiek te maak ontdek en met hierdie CD voel hy kompleet soos ’n kuiergas in die sitkamer. Met hierdie CD het Andries bietjie uit sy dop gekruip en gee ons ook ’n kykie tot in sy hart. Een van die snitte Ek stuur ’n soen is ’n stukkie kunswerk uit Andries se eie pen wat net weereens daarop dui dat hy in diepte groei soos wat sy keuses van lirieke en liedjies verander. Andries se drome het geen perke nie en met so ’n suksesvolle CD het hy goeie rede. Bekendes soos Danie Niehaus, Emo Adams en Steve Hofmeyr het nie geskroom om saam met Andries te werk nie en hulle deel in Andries se sukses en CD. Van die opskop-liedjies is vir Andries deur Anton Myburg geskryf. Dit was ’n voorreg om van Anton se liedjies te kon byvoeg saam met al die ander meesterstukke aangesien Anton al vir Wynand Strydom, Pieter Koen en Hugo liedjies geskryf het. Verder is daar ook liedjies van Vos Reyneke op die album opgeneem. Vos was die persoon agter Juanita du Plessis se Handjie vol liefde en vele ander treffers.
Deurentyd vermeerder Andries se aanhangers eksponansieel en hy bederf hulle met sy nuutste album. Daar is iets om van te kies en te keur: Die resep van sy kwaliteit musiek tesame met lekker boerekuier-lirieke het verseker dat daar weereens op die CD verskeie snitte is wat die litte laat losmaak soos Veraltyd by jou, B-Bos Keurspelen ’n Baby wil ek nie hê.

’n DVD met dieselfde titel is onlangs opgeneem met ‘n 10 stuk orkes op die verhoog en bekendes soos Danie Niehaus, Emo Adams en Le – Lue het ook kom deel in die aand se sukses. Die room van die land se storievertellers: Arno van Zyl en Allan Hughes het die gehoor vermaak met van hul bekendste stories. Die vrystelling van die DVD sal gedurende die lentetyd, September 2010 plaasvind. Andries se aanhangers hoef darem nie so lank vir sy CD te wag nie, aangesien dit teen Julie 2010 op die winkelrakke sal wees. 
Indien jy lekker kuier musiek waardeer, voeg Andries se CD by jou versameling of bespreek hom vir jou volgende vertoning

Besoek gerus www.andriesvermeulen.co.za

No comments:

Post a Comment